Dis die begin van ‘n nuwe skooljaar wat soos ‘n skoon papier voor elkeen op die skoolbank lê. Die rapport van verlede jaar is klaar afgeteken saam met die teleurstellings en verrassings.
Hoe kan ons ons kinders help om vanjaar sommer met die intrapslag ‘n meer bevredigende leerervaring te hê? Hoe kan hulle ‘n moeitevolle, negatiewe instelling teenoor skoolwerk omswaai na ‘n meer positiewe ervaring?
Een van die maklikste maniere is om te sorg dat die papierwerk en leer-omgewing goed georganiseer is. Laat ons eerlik wees: in mindere of meerdere mate geld dit vir elkeen van ons. As ek ‘n feesete vir 20 mense moet voorberei (op sigself ‘n reuse uitdaging vir ‘n kok met so min selfvertroue soos ek), en ek stap in ‘n wanordelike, ongeorganiseerde kombuis, sak my moed klaar in my skoene.
As my bronne (resepte) boonop versprei is oor drie verskillende boeke en op my selfoon (fotos wat ek in ‘n restaurant geneem het en resepte van die internet afgelaai), en as ek ontdek dat ek nie al die bestanddele vooraf gekoop het nie, is die spreekwoordelike tafel gedek vir ‘n vermorsing van tyd, paniek wat oplaai soos die horlosie aanstap – en uiteindelik ‘n negatiewe ervaring van die hele proses.
Van toepassing op ons kinders en hul studie: die voor die handliggende beginplek is om seker te maak dat elkeen ‘n afsonderlike tafel of lessenaar het, met ‘n netjiese plek slegs vir dinge wat te doen het met skoolwerk– skryfbehoeftes en notaboeke, elektroniese (opvoedkundige) hulpmiddels, ‘n goeie lig en gemaklike stoel.
Maar ewe belangrik en ‘n aspek wat so dikwels oorgesien word, is dat kinders nie hulle papierwerk sistematies organiseer nie. Dit raak net ‘n onmoontlike taak!
Volgende kyk ons na ‘n eenvoudige manier om dié probleem vas te vat.
Recent Comments