Oorspronklike artikel deur Denique Smith vir Die Burger (21 Junie 2021)
Kenners meen dat leeragterstande wat leerlinge weens die Covid-19-pandemie ontwikkel het die hoof gebied kan word met leerontwikkelingsprogramme.
Prof. Deon van Wyk, wat in kindersielkunde spesialiseer en die stigter is van StudySmart wat fokus om beter leervaardighede by kinders te ontwikkel, meen indien die leerverliese nie gou aangespreek word nie, gaan dit net groter raak en die impak daarvan sal in leerlinge se skoolwerk asook verdere studies gesien word.
Volgens die jongste National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile-studieverslag (Nids-Cram) is geraamde leerverliese weens die pandemie vir gr. 4-leerlinge 76% in hul huistaal en 48% in Engels as eerste addisionele taal.
Navorsing deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) wys dat veral gr. 2-leerlinge beduidende leeragterstande toon omdat hulle veronderstel was om verlede jaar in gr. 1 behoorlik te leer lees en skryf.
Leerverliese in wiskunde kom ook op groot skaal voor, het Chris Kloppers, uitvoerende hoof van die SAOU, gesê.
Dr. Nic Spaull, ’n onderwysnavorser verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê dat daar ’n persepsie is dat daar verlede jaar leerverliese was en leerlinge besig is om in te haal, maar die leerverliese is egter steeds aan die gang en sal aanhou totdat leerlinge heeltyds terugkeer skool toe.
Die departement van basiese onderwys het einde Mei in die Staatskoerant afgekondig dat alle laerskoolkinders vanaf 26 Julie voltyds sal terugkeer skool toe.
Ontwikkelingsprogramme help leerlinge op talle maniere
Van Wyk sê StudySmart het ’n leerontwikkelingsprogram oor tien gewoontes van suksesvolle leerlinge ontwikkel wat nie net help dat leerlinge (van gr. 4 tot gr. 12) hul skoolwerk beter verstaan en onthou nie, maar ook help dat hulle meer verantwoordelikheid aanvaar vir hul skoolwerk en beter presteer in hul skoolvakke.
“Die meeste kinders gebruik memorisering as ’n leervaardigheid, wat groot risiko’s inhou. Hoewel wetenskaplikes verskil oor die persentasies, is dit ’n feit dat die inhoud wat jy onthou maklik vergeet word.
“Afhangend van die inhoud, kan dit die volgende dag of drie dae later soveel as 70% wees. Dit is verskriklik – jy leer vandag 100 feite en onthou net 30 op dag drie,” sê hy.
“Kinders moet eerder leer hoe om hul brein te ontwikkel deur die beginsel van groepering te gebruik om belangrike konsepte vas te lê.
“Op dié manier kan hulle ook die oorvloed van inligting wat hulle by die skool kry leer verstaan en nie net leer om dit te memoriseer nie.”
Die program is in beide Afrikaans en Engels beskikbaar en word aangebied in videoformaat – video’s van tien minute lank – wat aflaaibaar is op selfone vir besige ouers. Daar is ook werkboeke en handleidings vir leerlinge en ouers.
Van Wyk voeg by dat kinders se breine gedurig gestimuleer moet word omdat dit lei tot die leer van nuwe vaardighede, soos leervaardighede.
“Navorsing het getoon dat ’n brein wat oefen nooit ophou verander nie.
“Wanneer die regte en uitdagende leer- en denkvaardighede toegepas word, pas die brein aan om hierdie uitdagings die hoof te bied.
“Plastisiteit is die vermoë van die brein om met leer te verander.
“Dus moet jou kind se inherente vermoë van sy brein ontwikkel word om nuwe vaardighede aan te leer, ’n beter geheue op te bou en die spoed waarteen inligting verwerk word so vroeg as moontlik te versnel,” voeg hy by.
Ouers speel belangrike rol
Volgens Van Wyk speel ouers ook ’n baie belangrike rol in kinders se intellektuele ontwikkeling.
“Ouers is veral betrokke by kinders se emosionele ontwikkelings en selfs ook tydens die bemeestering van sportvaardighede.
“Wanneer ouers inherent betrokke is by kinders se intellektuele ontwikkeling het hulle meer selfvertroue en praat hulle spontaan oor dit wat hulle by die skool geleer het,” voeg hy by.
Prof. Jena Raubenheimer, wat in ontwikkelingsielkunde spesialiseer en medestigter is van StudySmart, beaam dit en sê ondersteuning van ouers met leerlinge se skoolwerk maak die wêreld se verskil.
Sy sê ook dat ouers graag hul kinders met hul skoolwerk wil help, maar hulle weet nie altyd hoe en waar om te begin nie.
“Ouers het die persepsie dat onderwysers die formele deel van skool moet hanteer terwyl hulle net by die informele deel soos ondersteuning by buitemuurse aktiwiteit betrokke moet wees.
“Met die sluiting van skole verlede jaar was daar toe skielik die verantwoordelikheid dat hulle die kinders met hul skoolwerk moet ondersteun, maar hulle het nie geweet hoe nie,” sê sy.
Van Wyk en Raubenheimer sê die leerontwikkelingsprogram gee vir ouers die hulpmiddels om hul kinders by die huis met hul skoolwerk te help.
“Ons weet ouers se tyd is soms beperk, maar ons het die program so ontwikkel dat hulle elke dag net tien minute van hul tyd afstaan deur ’n video te kyk op hul selfoon met lesse wat wys hoe jy jou kind kan help.
“Ons wys hulle die boustene van ’n gesonde ouer-kind-verhouding, wat om te doen om leer lekker te maak, hoe om ’n positiewe leeromgewing te skep, die vaardighede om ’n liefde vir leer te bevorder en hoe hulle hul kind kan help met eksamenstres,” sê hulle.
Vir meer inligting oor StudySmart se leerontwikkelingsprogram kontak Deon van Wyk by deon@studysmart.org.za of Jena Raubenheimer by jena@studysmart.org.za.
Foto: PEXELS
Recent Comments