Dr Deon van Wyk

Ouers moet hulle kinders voorberei vir die uitdagings van ’n beroepswêreld. Talle ouers sit met hulle hande in die hare oor swak punte, liggeraakte kinders en ’n gespanne atmosfeer in die huis.

Voorheen was ’n mens feitlik verseker van ’n werk ná matriek. As jy die regte studierigting gekies het, kon jy ’n groot salaris kry en was jou kop deur. Dit sal egter nie vir lank meer só wees nie.

In 1998 het Kodak 170 000 werknemers gehad en 85% van alle fotopapier wêreldwyd verkoop. Intussen het digitale fotografie veroorsaak dat minder foto’s gedruk word en dat foto’s nou eerder digitaal op mense se rekenaars gestoor word. Binne slegs ’n paar jaar het Kodak gekwyn en bankrot gespeel.

Tegnologie sal elke werksomgewing binne die volgende vyf tot tien jaar verder binnedring en verander. Dink net: Uber besit geen motors nie, maar is tans die grootste uurmotorbesigheid in die wêreld. Hullebesigheid bestaan bloot uit sagteware. Airbnb is nou die grootste hotelmaatskappy ter wêreld, maar hulle het geen eiendom nie!

As jy op Google na die topposte gaan soek, kry jy resultate soos: “10 jobs that did not exist 10 years ago” en “5 high-paying jobs that didn’t exist 10 years ago”.

’n Positiewe houding jeens studie is onontbeerlik vir goeie prestasie. Kinders moet honger vir kennis raaken bly. Intellektuele aktiwiteite, leerwerk en studie moet ’n aangename ervaring vir die hele gesin wees.

Dis nie sinvol om alles uit jou kop te probeer leer nie
Van die eerste dinge wat graad 1’s leer, is die dae van die week, die maande van die jaar en die alfabet. Gewoonlik word dit uit die kop geleer.

Memorisering is kinders se eerste kennismaking met formele leer. Goed en wel, dit het sy plek, maar dis ’n groot risiko om daarop staat te maak as die enigste of hoofstudiemetode.

Wanneer jy byvoorbeeld die alfabet leer, word die letters van voor na agter opgesê en elke letter word met die daaropvolgende een verbind. Solank elke skakel van die ketting onthou word, gaan dit goed. As die kind egter een van die skakels vergeet, is daar moeilikheid. Omdat dit as ’n rympie geleer is, word alles wat daarop volg, ook vergeet.
Ouer kinders wat op hierdie manier leer, sal, wanneer dit in ’n toets of eksamen gebeur, byvoorbeeld sê: “Ek het ’n blank geslaan!”

Om op ’n jong ouderdom ’n paar uur aan die aanleer van die regte studiemetodes af te staan, is die beste belegging wat kinders in hulle toekoms kan maak.

Waarom presteer kinders nie volgens verwagting op skool nie?
’n Kind het dalk ’n positiewe gesindheid teenoor studie, maar gebruik die verkeerde studiemetodes. Dit is nie moeilik om so ’n iemand te help nie. ’n Mens kan dit gou raaksien deur bloot te vra: “Wys my hoe jy studeer.” Jy kan die kind maklik help om doeltreffende studiemetodes te volg.

Aan die ander kant het ’n kind dalk ’n negatiewe gesindheid teenoor skoolwerk. Dit sal nie werk om vir so ’n kind net die regte studiemetodes te wys nie. Sy weet gewoonlik maar alte goed wat om te doen, maar omdat sy negatief is, is sy nie gemotiveerd om daardie metodes te bemeester en toe te pas nie.

Ouers moet kinders op albei terreine help. Dit gebeur selde dat ’n kind vanself goeie studiegewoontes bemeester. Hulle sien dit gewoonlik by ’n ouer of ander belangrike persoon in hulle lewe of lees dalk toevallig daaroor.

’n Belangrike taak vir ouers is om ’n klimaat te skep waarbinne kinders lief kan raak vir kennis en vir aktiwiteite wat hulle intellek toets. Hulle moet leer om hierdie deel van die lewe te geniet.

Gelukkig is dié kinders wat grootword in ’n huislike atmosfeer wat ’n positiewe gesindheid teenoor leer help kweek. Dit skep ’n goeie omgewing waarbinne hulle die doeltreffende leerstrategieë kan bemeester.

Ouers moet die hoofrolmodelle vir ’n kind wees
Dink ’n bietjie … Leef jy die volgende uit: ’n ondersoekende gees, die honger om antwoorde te vind, die lekker daarvan om te weet hoe dinge werk en dit met ander te deel?

Julle kan studie onaangenaam maak as julle toelaat dat angs en stres oor die kinders se skoolwerk en veral punte ontstaan. Dan word die hele atmosfeer by die huis tydens eksamens ’n tydbom wat wag om te ontplof.

Ouers stel dikwels net in hulle kinders se punte belang en vra maar min uit oor wat hulle by die skool leer. Wys eerder julle stel belang in die inhoud van die skoolwerk en gesels daaroor. Só wys julle hoe relevant en belangrik skoolwerk, en veral kennis in die algemeen, is.

Neem tyd en blaai deur hulle skoolboeke. Kyk na wat hulle behandel. Vra daaroor uit en bespreek dit met hulle. Hulle beleef dan hoe lekker dit is om iets oor hulle wêreld te
vertel en hoe belangrik dit is om tyd en energie in leerwerk te belê.

Kinders moet vroeg begin om hulle brein te ontwikkel sodat hulle die breinkrag het wanneer hulle dit nodig kry. Gee hulle die beste geskenk wat daar is: jou voorbeeld, hulp en aanmoediging – en die beste studiemetodes vir lewenslange leer!

Om te verstaan wat jy leer, is die sleutel tot sukses
Talle kinders sukkel om te leer en ouers sit met die hande in die hare oor swak punte, geïrriteerde kinders en ’n gespanne atmosfeer in die huis.

Die belangrikste is dat om alles uit jou kop te probeer leer ’n fout is! Om te verstaan wat jy leer, is die sleutel tot sukses.
(Bron: Finesse, Oktober/November2021)

css.php